Soldate herower antieke stad Palmyra

Regeringsoldate van die Siriese weermag het ’n hewige aanval uitgevoer teen die Islamitiese Staat terroriste en die antieke stad Palmyra vir ’n tweede keer herower.

Die gevegte wat Donderdagaand losgebars het, en tot die vroeë oggendure geduur het, was ’n deurbraak vir die soldate nadat die stad etlike maande gelede weer deur die terroriste ingeneem is.

Palmyra is een van die belangrikste toeriste aantreklikhede in Sirië met sy antieke geboue en ruïnes, maar wat erg beskadig is deur die terroriste wat vandalistiese skade veroorsaak het.

Vroeër het Rusland onderneem om deskundiges na Sirië te stuur om die skade aan geboue te herstel tot hulle oorspronklike status.

Palmyra is sedert 1980 as Unesco wêreld-erfgebied verklaar maar is in 2015 deur die terroriste beset en is talle antieke geboue deur hulle beskadig.

Rusland het met lugaanvalle die Siriese weermag bygestaan en aan die einde van 2015 die terroriste verdryf, maar het aan die einde van 2016 teruggekeer na die stad.