SAUK in krisis, hoof kry 67% verhoging

SAUK-personeel is erg bekommerd dat hulle nie die einde van die maand salarisse gaan ontvang nie, nadat dit aan die lig gekom het dat die SAUK se finansiële krisis aansienlik groter is as wat aanvanklik bekend gemaak is.

Woordvoerders van die SAUK probeer gerusstellende boodskappe uitstuur, maar dit dra nie veel geloofwaardigheid nie.

As gevolg van die krisis gaan geen nuwe televisie­programme gemaak word nie.

Die woordvoerder van die regering se “His Matster’s Voice”, Kaizer Kganyago, het erken dat die finansies onder druk is en dat die SAUK sy aktiwiteite uit reserwes betaal. Hoe lank die reserwes gaan hou, is nie bekend nie.

Terwyl dit bekend is dat die situasie deur wanbestuur en verkwisting ontstaan het, het  Kganyago die wêreldekonomie, media en gebrek aan regeringsondersteuning die skuld vir die situasie gegee.

Steeds meer personeellede wend hulle egter na die KVBA, waarna in baie gevalle vergoeding deur die SAUK betaal moet word. Daarbenewens het die waarnemende hoof van die SAUK, James Aguma, verlede jaar ‘n verhoging van 67,25% gekry, sodat sy inkomste nou op R2,2 miljoen per jaar staan. Kganyago reken egter nie die verhoging is onredelik hoog nie!

Intussen is die SAUK besig om luisteraars en kykers teen asemrowende tempo te vervreem. Die oggendaktualiteitsprogram Monitor, maak skynbaar ‘n doelbewuste punt daarvan om sy Afrikaanse luisteraars te vergal met Afrika-musiek wat nie sy luisteraars se smaak of waardes deel nie. Steeds meer mense weerhou lisensiegelde aan die SAUK, wat bydra tot hulle krisis.

Foto: ‘n Tevrede James Aguma nadat hy “slegs” 67% verhoging gekry het