Russiese ekonomie tel kop op

Na twee jaar van resessie het die Russiese ekonomie weer kop opgetel, en het Duitse maatskappye gesê hulle is positief om verdere investering te doen in Rusland.

Die Duitsers sê die handel tussen die twee lande is besig om ’n opwaartse tendens te toon wat later vanjaar verder gaan styg volgens die jongste vooruitskattings.

Die gevolg hiervan is dat Duitse vervaardigers nou bereid is om verdere beleggings in Rusland te maak deur die loop van 2017.

’n Opname wat deur die Komitee van Oos-Europa Verhoudings gedoen is in samewerking met die Duitsland-Rusland Kamer van Handel, het bevind dat die Russiese ekonomie aan die verstewig is wat nuwe beleggings uit Duitsland aanmoedig.

Tans het Duitse maatskappye sowat 122 000 werknemers in diens met ’n gesamentlike belegging van meer as 30 biljoen euro se beleggings in Rusland.

Die Russiese ekonomie is nog nie terug na sy normale vlakke nie, maar die verwagting is dat die gedurende 2017 bereik kan word.