Regering hou boere aan ‘n lyntjie

Nadat hy onlangs ‘n artikel daaroor in ‘n Sondagkoerant geskryf het, het dr. Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudings, teenoor Landbou.com herbevestig dat die regering ten doel het om boere van al hulle besittings te stroop.

In die onderhoud sê dr. Cronjé dat nasionalisering van plase in ooreenstemming is met die ideologie van die Nasionale Demokratiese Revolusie, wat deur ’n aantal senior ANC- en Regeringsleiers as die ware beleidskonsep van die Regering erken word. Ooreenkomstig met dié konsep het die Minister van Grondsake sowel as die president albei hierdie jaar verklaar dat ’n wet goedgekeur moet word wat die staat sal toelaat om sonder vergoeding op kommersiële plase beslag te lê. “Ek glo die president en die minister,” sê dr. Cronjé.  Hy het boere gewaarsku dat hulle moet verstaan dat ideologies gedrewe beleidsvormers skade gedoen het op terreine wat wissel van mynbou tot vervaardiging. “Boere moenie dink dat hul sektor anders sal wees nie.”

Hy sê in die meeste gevalle is hulle waarskuwings verontagsaam. “Die uitsondering is die TLU SA, wat ’n besonder skerpsinnige begrip van die beleidsintensies van die Regering getoon het.”  Die meeste groot landbou-rolspelers het gesê het dat hulle verkeerd is en dat die Regering nie die kommersiële boerderysektor wil nasionaliseer nie en ook dat die Grondwet dit in elk geval sou voorkom. “Ek en my senior beleidskollegas dink dat die meeste landbou-ontleders verkeerd is oor die intensies van die Regering, verkeerd is oor die Grondwet, en verkeerd is om te dink dat openhartige onderhandelinge met die Regering plaasvind. Boere word deur die Regering aan ’n lyntjie gehou.”

Hy sê dit is noodsaaklik om die naïwiteit te beëindig en op te hou om vir boere te sê dat alles sal regkom. “Ontwikkel ’n meer skerpsinnige ontleding van die Regering se intensies  en lig boere dienooreenkomstig in oor die risiko’s. Die tweede punt is om op te hou onderhandel volgens ’n verwysingsraamwerk wat deur die Regering gestel word. Boere moenie onderhandel oor hoeveel van hul grond afgestaan moet word nie. Verander die onderhandelingsbepalings na hoe ’n toekoms vir kommersiële boere verseker kan word. Om die oorgawe van net een hektaar te bespreek is om die deur oop te maak om alles te verloor,” waarsku dr. Cronjé.

Foto: Dr. Frans Cronjé