Port St Johns-klimop / Podranea ricasolia / Pienk Trompet klimop plant

Hierdie rankplant is van die mooiste plante vir heinings, priële, boë en ook skermplante. Die naam “Pienk Trompet klimop” pas pragtig by die plant omdat dit so geil dra en die blomme regtig soos trompette lyk. Dit groei baie dig en sal ‘n onaansienlike heining of muur baie goed wegsteek.

Die Port St Johns klimop groei tot 6 tot 10 meter hoog en is ‘n baie sterk plant en groei geweldig goed. Die plant is immergroen en die loof is heldergroen en blink. Die loof is ook dig. Die stamme is sterk en dit hang effens gebuig na onder indien dit nie opgelei word nie. Indien die plant ook nie gereeld teruggesnoei word nie, kan hy nogal hand uitruk want hy groei vinnig.

Dit is ‘n baie ornamentele plant met die uitermate digte bosse blomme. Die blomme is aromaties, lila pienk tot helder pienk. Hierdie plant blom geweldig in die somer en vir ‘n lang tydperk tot in die herfs. Blomme hang in trosse aan die takke se punte. Die blomme van die Port St Johns klimop kruip glad nie weg tussen die blare nie. Aan die binnekant van die blomme is hulle heldergeel met de pienk stuifmeeldrade. Mens kan dit net nie weerstaan nie, dit moet bewonder word.  Na die blomtydperk vorm dit lang, smal, reguit, plat kapsulevormige saad. Die saad is bruin en plat en sommer baie in een kapsule.

Podranea ricasoliana is familie van die Bignoniaceae. Dit groei veral goed in tropiese gebiede, en is ook baie bekend in Suid Afrika. Dit moet in goed dreinerende grond geplant word en ook in vol son. Voeg gereeld kompos by vir die beste resultate. Hierdie ranker is bestand teen droogte en wind maar moet teen ryp beskerm word. Wanneer dit eers gevestig is, sal dit weer uitloop na rypskade. Die beste tyd om die plant terug te snoei is gedurende die winter of vroeg lente voordat die nuwe groei begin. Dit kan van steggies en saad gekweek word. U sal ook sien dat daar waar die ranker se takke op die grond gaan lê het, begin dit groei. Hou die grond redelik klam waar u steggies uitgeplant het. Dit neem ongeveer 6 weke om wortels te maak.

Ongelukkig is daar insekte wat die plant beskadig, en wees daarom op die uitkyk vir dieselfde goggas wat dahlias beskadig. Hierdie is ‘n wonderlike rankplant om in die tuin te plant en indien daar van die takke met blomme aan gesny word om in ‘n rangskikking te gebruik, sal die hele huis lekker ruik.

Tuiniers, berei solank voor vir die komende winter en sorg dat u genoeg rypdoek het vir al die plante wat nie van ryp hou nie. Geniet ook u tuin in die koeler tyd wat kom.

Tuingroete tot volgende keer.