Pence ook in e-pos skandaal

Die Republikeinse visepresident van Amerika, Mike Pence, is ook skuldig daaraan dat hy vertroulike inligting vanaf sy private rekenaar gestuur en ontvang het.

Visepresident Pence is een van Hillary Clinton se grootste kritici oor haar wanaanwending van vertroulike en geheime inligting wat waarskynlik een van die belangrikste redes is waarom sy die presidentsverkiesing verloor het.

Koerante in die VSA het vasgestel dat Mike Pence presies dieselfde oortreding begaan het sedert 2013 as goewerneur van Indiana toe hy amptelike e-posse deur sy private rekenaar hanteer het.

Pence is egter hoogs ontsteld omdat een van die koerante sy vrou se e-pos adres bekend gemaak het, en later hul verskoning vir die blaps aangebied, met die verskoning dat hulle gemeen het die e-pos adres is nie meer aktief nie.

Alhoewel die inhoud van die e-posse nie “hoogs geheim” is wat Pence hanteer het vanaf sy private rekenaar nie, word hy sterk gekritiseer deur Demokrate sowel as enkele Republikeine wat reken dat hy nie die reg gehad het om tydens die verkiesingsveldtog van verhoog tot verhoog sy kritiek uit te spreek oor die misdryf wat Clinton begaan het nie.

Foto – Visepresident Mike Pence