Op die volksakker – die ware gesig van menseregte en die vakbondwese

Ironies-gepas het Maart, die maand waarin die afgodery van “menseregte” gevier word, met ´n tasbare bewys van die onregmatigheid van “menseregte” begin.

Inwoners van Pretoria was die slagoffers van stedelike terreur op reuse skaal, toe wettelose vragmotorbestuurders die hoofweë en ander roetes oorgeneem en, benewens chaos en vermybare verliese vir duisende, op roekelose wyse alle verkeersreëls geïgnoreer en menselewens in gevaar gestel het.

En soos ons kan verwag, het owerhede geskarrel van onkant tot flou regverdigings teen laatmiddag, dat toestemming sogenaamd gegee sou gewees het vir “protes”, nie vir blokkering van paaie nie. Natuurlik sou opgevoede mense hulle hou by die reëls van protes …

Maar nuus en frustrasie ter syde, vertrou ek dat lesers die volgende kernwaarhede sal raaksien:

“Menseregte” is in wese afgodery – selfverheffing deur ´n arrogante mensdom;

Wie dus gemene grond vind met “menseregte”, is by implikasie ´n heiden.

Maar kom ons lê ´n menslike maatstaf aan, en kyk of die resultaat “beter” lyk:

“Menseregte” laat ´n denklose, verbeeldinglose massa toe om ´n stad in chaos te dompel;

Menselewens en hardwerkende mense se werksprogram word arbitrêr omver gewerp;

Selfs die beswaar is in wese selfsug – die eie ek van die terreurbende staan sentraal.

Die slotsom is dus:  vir die Christen is “menseregte” bloot verwerplike afgodery;

maar selfs gemeet aan menslike maatstawwe is daar geen goed te vind in “menseregte” nie, want een se “reg” lei tot direkte en onverskoonbare onreg teen ander.

Maar ons moet ook die kultuur hieragter verstaan: Die kragverskaffer doen die verantwoordelike en gee kennis van langtermyn strategiese veranderinge.

In stede om soos opgevoede mense na pro-aktiewe oplossings te soek, openbaar die terreurbende se optrede ´n kleinlike onvermoë om hul eie sake positief te bestuur, en dring hulle eerder aan op ´n voortslepende, utopiese uitdeel van middele.

Hierdie gedrag is tipies verteenwoordigend van die vakbondwese: Die vakbondwese bestaan slegs om middelmatigheid te bevorder, en deur arbeidsterreur eiebelang af te dwing op die sakewêreld en die samelewing.

Vakbonde het geen belang daarby om hulle lede op te voed of op te hef nie – tevrede, produktiewe en opgeleide lede sal nie vakbondkoffers vul nie!

Hierdie trek weer duidelike lyne, lyne tussen reg en verkeerd, waarheid en leuen; dit trek ook praktiese lyne tussen opbouers, en ´n blote parasitiese arbeidersklas wat met ´n kommunisties-geïnspireerde bakhand staan en hardwerkendes afpers.