Oostenryk tref nuwe maatreëls teen immigrante

Die konserwatiewe koalisieregering in Oostenryk beplan nuwe wetgewing wat die owerheid sal magtig om ’n einde te bring aan voedsel en akkommodasie voorsiening aan immigrante.

Te midde van hewige kritiek van die Verenigde Nasies, het die regering in Oostenryk besluit dat die belange van die volk veel groter is as die hulp aan immigrante.

Tydens ’n perskonferensie in Wene, die hoofstad van Oostenryk, het die Minister van Binnelandse Sake, Wolfgang Sobotka, gesê immigrante wie se asiel aansoek van die hand gewys word, moet eerder die land verlaat of die gevolge dra.

Die minister het daarop gewys dat sulke immigrante geen hulp of ondersteuning van die regering sal kry nie, en het ook nie die reg om in die land te bly nie, en gevra of dit dan so moeilik is om dit te verstaan.

Minister Sobotka sê dit word aanbeveel dat immigrante wie se aansoek misluk het maar uit eie wil die land moet verlaat om ernstige gevolge te vermy

Die Minister van Verdediging, Hans Peter Doskozil, het gesê die boodskap aan immigrante is duidelik gestel, en die VN se beswaar is ongegrond aangesien Oostenryk nie plek het vir mense waarvan die asiel aansoek misluk het nie.

Die regering wys daarop dat sowat 4 000 onwettige immigrante in die land is wie se asiel aansoeke nie geslaag het nie en wat steeds hulp van die owerheid ontvang, maar wat nou die land moet verlaat.

Nuwe wetgewing word ingebring wat boetes van tot 15 000 euro beteken vir immigrante wat steeds in die land woon.

Die regering kan ook ’n boete van 5 000 euro oplê teen immigrante wat nie die waarheid in asiel aansoeke skryf nie.

Tans ontvang immigrante gratis voedsel, gratis gesondheidsdienste, en ’n maandelikse toelaag van 40 euro, maar volgens die beoogde wetgewing sal immigrante wie se asiel aansoek misluk het, nie meer die gratifikasie kry nie.

Gedurende die afgelope twee jaar het die Europese Unie druk geplaas op lidlande om meer immigrante te huisves, en Oostenryk het in die twee jaar sowat 90 000 vreemdelinge ontvang en gehuisves.