Ons geloofsakker – ons kerke en die Calvinistiese Alliansie

As gereformeerde volk moet ons die wyse woorde van Maarten Luther beaam: dat skole en universiteite wat op nie-gereformeerde grondslag staan nie, bloot die poort na die hel vir ons kinders sal word!

Ons kan geen fondament naas ons geloof, naas die lewende Woord, hê nie.  Maar kortkop agter ons geloofsakker móét ons Christelike opvoeding vir ons kinders nastreef.

Die beste is natuurlik die Christelik-volkseie, aangesien dit ´n genadige voorsiening is dat die mensdom geskape is as volke, naas die boustene van gelowige en verbondsgesinne.

Na net meer as 20 jaar van “vryheid” sien ons vandag die klaaglike verval in ons samelewing, natuurlik deels omrede daar bloot slegte appels in die breë samelewing is, maar toenemend omdat skole ons kinders indoktrineer met die heidense filosofieë van humanisme (in al sy verderflike vorme).

In openbare skole word kinders toenemend skaam gemaak vir ons volkserfenis.  Hulle word ingedwing in ´n valse en geforseerde “eenheid”, wat verbasterde geloof en uiteindelik afgodery in die hand werk.

Die behoudende volksakker, wat eens gedy het op die grondslag van CNO-skole en kerk- en kultuurleiers wat ons volk en land tot groot hoogtes gelei het, lê toenemend brak aan jeugbetrokkenheid.  En die primêre rede is kultuur-onbetrokkenheid van ouers en hoofstroom skole!

Verder neem akademiese standaarde jaar na jaar af, want dit is kwansuis “onbillik” dat sommige kinders druip.  Selfs in sogenaamd vooraanstaande skole verwerf kinders onderskeidings, maar kan bloot nie die kennis toepas nie!

Maar belangriker as die praktiese, is die verlies aan geloofsdiepte, want wat in die ouerhuis rondom Boekevat behoort te begin en in die kerk ´n hoogtepunt word, kan net werklik gedy in ´n volk wie se kinders ook van moedersknie in Christelike skole leer en ervaar hoe die Christelike geloof in elke lewensfaset sy beslag kry.

Of dit ons God-gewilde tale, die wetenskapwonders van God se Skepping, of die toepassing van Godgegewe talente in die bestuurswetenskappe verteenwoordig, alles setel in die Skepper en Onderhouer van alles.

Hierdie grondslag in skole en universiteite sal jong volwassenes lewer wat verstaan dat ons vermoëns is genadegawes – talente om in diens van onder andere ons volk aangewend te word, nie bloot in eie belang nie.

Verder sal dit van ons jongmense rentmeesters maak, wat op hul beurt sal arbei, maar ook bewaar vir ons kindskinders wat na ons mag kom.  Dit sal veral ons jongmense toerus met die vermoë en inbors om eerlik en met integriteit te funksioneer op elke lewensterrein, selfs te midde van volslae korrupsie en rampokkery.

Ons kan eintlik eindeloos uitbrei op die goeie uitkomste van Christelike onderrig.

Beskou ons dan juis daardie klakkelose aanvaarding van heidense waardes (“omdat almal dit doen”), die gejaag na geld en genot wat huwelike en ouer-kind verhoudings aan flarde laat, losbandige gedrag op haas elke terrein en die selfsugtige materialisme van ons dag, is dit ewe maklik om die wrang vrug van heidense onderwys te eien.

Maar ons moet ook, soos altyd, in die spieël trag en eerlik vra:  Kan ´n volk wat sogenaamd Christelik is, tevrede wees met saal-opening, of ´n gebed hier en daar?  Leer die Skrif nie juis dat VOLLE OORGAWE gevra word van die Christen nie?

Waarom, wanneer so baie graag wil roem op hul Christenskap, is die leerlingtal in ons Christelik-gereformeerde skole maar net enkele duisende?

Ten spyte van die voorgaande, bly dit opmerklik hoe sterk leerlinge uit geledere van BCVO en ARSO presteer, sien ons die genadige seën wat rus op diegene wat die regte weg nie net bely nie, maar bewandel.  Ofskoon klein, lewer die APA studente van besondere inbors.

Ons moet hierdie instellings koester en sterk maak.  Ons moet veral waak teen insypeling van geloofs- en volksvreemde waardes en beskouings dat daar gemene grond bestaan tussen Christen-wees en die humanisme.  Om daardie dwaling te weer, moet ons staan en val by ons gereformeerde wortels, veral in ons skole en universiteite.