Omvang van Woordeskat

Daar is al soveel male van die voordele van moedertaalonderrig melding gemaak dat dit afgesaag klink. Dit is egter so ‘n uiters belangrike saak dat dit vanuit verskillende hoeke bekyk moet word.

Omdat Afrikaanse kinders op hulle moedertaal ingestel is, leer hulle makliker die inhoudelike van ander vakgebiede soos wiskunde, biologie, skei- en natuurkunde, ekonomie, Bybelkunde, en so meer. Namate hulle ouer en meer volwasse raak, is hulle goed voorberei om hulle taal, kultuur en geloof op ‘n edele wyse te behou terwyl hulle Engelse studieboeke as handleidings gebruik.

Een vraag waaraan nog weinig aandag gegee is, is hoe ‘n groot woordeskat een mens kan hanteer. Daar is al min of meer vasgestel hoeveel woorde ‘n hond kan onthou wanneer hy opgelei word om opdragte uit te voer. Omdat papegaaie mensewoorde gemaklik kan namaak, is die omvang van hulle  “woordeskat”  al dikwels bestudeer. Wat van mense?

Volgens skatting hanteer die gemiddelde mens ongeveer 20 000 woorde. Hy kan nouliks ‘n woordeskat van sowat 30 000 woorde bemeester, en as die woordeskat nog meer uitgebrei word, raak dit werklik onhanteerbaar. Aan moedersknie leer ‘n baba sy eerste woorde van sy moedertaal en bou daarop voort wanneer hy tot ‘n kleuter ontwikkel. Teen daardie tyd het hy al ‘n redelike woordeskat in sy gesinsverband opgebou. Alledaagse woorde soos melk, brood, botter, konfyt, skoen, broek, stoel, radio, telefoon en sommer duisende ander benamings waarmee ‘n mens in ‘n huis te doen kry.

Dan is daar werkwoorde soos sit, staan, eet, loop, gaan, kom, en ook uitdrukkings soos dit gaan goed, iemand is siek, die son kom op, dit is donker, hoekom, buite, binne, ensovoorts. Wat binne ‘n paar jaar ook buitenshuis in ‘n kleuter se woordeskat opgeneem word, beloop duisende. Gaan deur die woorde in ‘n woordeboek en let op hoeveel duisende woorde ‘n kind van sewe jaar reeds in sy geheue vasgelê het.

Waarop dit neerkom is hoeveel ruimte enige mens in sy woordeskatkassie het om ook ‘n goeie woordeskat van ‘n tweede taal te kan opneem. Heeltemal te min en dus sal òf die moedertaal òf die tweede taal afgeskeep moet word, òf albei sal vermeng en verminder. Daar is byvoorbeeld nie ‘n ooreenkomstige vertaling vir die Engelse “you” in Afrikaans nie. In Engels is “you” veralgemeen om jy, jou en u te beteken. Daarom dat ‘n Engelsprekende dikwels ‘n ouer in Afrikaans aanspreek as jy of jou. In Afrikaans sê ons “kan ek vir Pa help” en nie “kan ek jou help” nie. “Kan ek Oom help” al is dit nie ‘n familielid nie.

Hierdie woordeskatprobleem is nie net op kinders van toepassing nie. Dink maar hoe klein jou woordeskat in Engels was nadat jy die skool verlaat het. My waarneming is dat volwasse Afrikaanssprekendes dikwels worstel om ‘n relaas in Engels te vertel.