´n Volk wat bou, bewerk en bewaar

Uit ons Christelik-gereformeerde volkswortels, wat ons DV op 6 April sal herdenk, op die vaste fondament van God’s Woord, verkondig in en uitgeleef deur gelowige volksgenote en volksgesinne, wat geleer word in Christelike- en volkseie skole, bou ons (menslik gesproke) daardie gelowige volk wat opreg, as rentmeesters, bou bewerk bewaar.

Só geseënd was die gelowige arbeid van geslagte Afrikaners, dat selfs ´n kwarteeu van plundering, verval en anti-Christelike regeringsindoktrinasie baie laat verval het, maar selfs in gebrokenheid bied dit steeds die enjin wat ons landsekonomie aan die gang hou.

Te midde van heidens-sosialistiese vakbonde se beste pogings om die geestesgoedere van vlyt en arbeidsaamheid te verwoes, het ´n letterlik handjievol werkers met protestante werksetiek steeds ´n eksponensiële invloed op ekonomiese bedrywighede.

Twee dekades van planmatige rassediskriminasie het wel groot dele van ons volk begin verarm, maar die teendeel is óók waar: duisende volksgenote bedryf eie ondernemings wat gedy.

Ongelukkig moet ons erken, en waarsku, dat té veel sien “vryheid” bloot in geldelike welvaart. Dit is tragies dat alhoewel daar ´n groeiende volksekonomie op ondernemingsvlak bestaan, te min van daardie ondernemings volksgenote in diens neem!

Die goedkoop volksvreemde arbeid bly steeds te aanloklik.

Maar ook baie van diegene wat wel werkloos staan, moet besef daar is niks vernederend in eenvoudige werk nie, ´n negatiewe element van rasse-hoogmoed wat uit Britse kring op ons volk afgesmeer het!

Die feit bly egter dat vir ons volks- en geloofsbehoud moet ons vryheid nastreef.

Terwyl die Skrif-fondament, die geestelike bolwerk van ons eie kerke, skole en gelowige gesinne onmisbaar is, gaan daardie vryheid slegs volhoubaar bereik word indien ons opnuut begin bou, bewerk en veral bewaar.

Die aanloklikheid van die materialisme staan in direkte teenstelling tot vryheid.  In die 1950-70 tydvak het ons onmiddellike voorsate materialisme en welvaart gekies, bó die beginselpad deur dr. Verwoerd en sy medestryders bepleit.

Ons sien vandag die resultaat.

Ten eerste moet elke volksgenoot wat reeds sy of haar eie onderneming besit of bedryf, deeglike bestekopname maak en met volle krag in ons volksekonomie betrokke raak.

Onder die vaandel van die Oranjeprojekte is daar reeds etlike voertuie wat die volksekonomie kan ondersteun – ons moet die bank en ontwikkelingskorporasie sterk maak.  Deur betrokkenheid by die sakekamers moet ons ons gesamentlike stem laat hoor.

Verder moet ons met ´n oog op die toekoms besef dat ons die volksekonomie na binne móét keer: Die volksekonomie móét uit die volk, vír die volk werk.

Na buite behoort enige bande suiwer op praktyk en realiteit afgestem te wees:  verkryging en uitbou van kundigheid, middele, en waar handel ter sprake kom, uitbou van handel ten behoewe van óns volk.

By wyse van spreke moet ons volksekonomie in wese ´n netto-uitvoerder van goed en dienste, met behoud van kundigheid, word teenoor ander belangegroepe in ons land.  Ons moet deur beste kundigheid en beste werksetiek meeding, maar die opbrengste wat ons verdien in ons eie volk terugploeg.

Ons kan onsself nie tans geografies of ekonomies losmaak van die werklikheid van SA nie.  Ons kan wel met vernuwende denke en onbaatsugtige doelstellings ons eie volk weer in diens neem in ons eie ondernemings, en selfs met die beperkte welvaart van ´n minderheid kan ons weer ons volk opbou.

Daar bestaan meer as genoeg volkseie ondernemings om dit moontlik te maak.  Gaan daardie ondernemings die morele besluit kan neem om SEB en volksvreemde indiensneming te staak, ten behoewe van die volksekonomie?

Gaan verbruikers bereid wees om weer ´n redelike premie te betaal om die plaaslike volkseie winkel, slaghuis, bakkery, apteek, of watter onderneming ook al, te ondersteun, eerder as om te jaag na supermarkpryse – pryse wat kunsmatig verlaag word om juis die klein, onafhanklike handelaar en diensverskaffer dood te druk?