Merkel kry sterker teenstand

Die Duitse Sosiaal Demokratiese party (SPD) is besig groter steun te werf en kan  kanselier Angela Merkel uit die kussings lig.

Kanselier Merkel se Christen Demokrate (CDU) en haar koalisievennoot van Bavaria, die Christen Sosiale Unie (CSU) het volgens die jongste meningsopname, slegs ’n 2% voorsprong op die SPD.

Die opname wat onder ’n paar duisend kiesers gemaak is, toon dat Merkel se koalisie met een persent na 33% gedaal het teenoor die styging van sowat 10% tot 31% wat die SPD getoon het.

Die opname wat deur Forse Instituut gedoen is, toon egter dat die nasionaliste se Alternatief vir Duitsland (AFD) se steun op 9% vasgesteek het, en die Groenes staan op 8%.

Martin Schulz, kandidaat van die SPD, het sy steun verhoog nadat hy belowe het om verder links te beweeg as hy verkies sou word as kanselier.

Die nasionalistiese AFD het volgens die meningspeiling, met minstens een persent verswak, wat die laagste is in die afgelope jaar.

Duitsland se verkiesing vind plaas in September, en dit is reeds duidelik dat die linkses alles in die stryd gaan werp om beheer te neem, en indien die Groenes in koalisie gaan met die SPD, kan hulle ’n meerderheid vorm om Duitsland te regeer.

Foto – Kanselier Angela Merkel