Media geblameer vir swak vordering in lughawe rooftog

Vier mense, waaronder ‘n polisiebeampte, is reeds gearresteer vir die waaghalsige kontantroof op die aanloopbaan van die Johannesburgse lughawe, maar die media word geblameer vir die stadige verdere ondersoek.

Die polisie is skielik bekommerd dat mediaberigte en joernaliste se pogings om die waarheid te agterhaal die verdere ondersoek kan belemmer.

‘n Woordvoerder van die waarnemende nasionale polisiekommissaris het gesê joernaliste se voortdurende inmenging en onwettige maniere om inligting uit polisielede te kry help nie die proses van die ondersoek aan nie.  Hulle sou bowendien agterdog en ‘n verwronge beeld uitdra.

Skynbaar is die polisie fyngevoelig oor die feit dat een van sy lede reeds in verband met die misdaad gearresteer is, en daar verwag word dat nog etlike polisielede daarby betrek kan word.