Linkse Fransman onttrek nie as kandidaat

Die verlinkse Franse politikus, Jean-Luc Mélenchon, het aangekondig dat hy nie as presidentskandidaat gaan onttrek om sy steun oor te dra aan die ewe linkse Benoît Hamon nie.

Hy het die naweek aangekondig dat hy self sal deelneem as kandidaat aan die presidentsverkiesing, en nie bereid is om sy ondersteuners aan te moedig om vir Hamon te stem nie.

Hamon het in ’n TV onderhoud gesê die sosialis Jean-Luc Mélenchon het hom in kennis gestel dat hy voortgaan as kandidaat in die stryd om Franse president te word.

Die verlinkses kon dus nie daarin slaag om ’n gesamentlike kandidaat te stel nie, wat beteken dat albei die risiko loop om na die eerste rondte verkiesing in April, uitgeskakel te word.

Dit kan meebring dat Marine Le Pen teen die Republikein, Francois Fillon, te staan kan kom, wat ’n verbete geveg sal afgee.

Jean-Luc Mélenchon het in 2012 ook aan die presidentsverkiesing deelgeneem en het toe 11% steun getrek. Die vermoede bestaan dat hy beter sal doen vanjaar, maar nie voldoende steun het om deur te dring na die tweede rondte in Meimaand nie.

Foto – Jean-Luc Mélenchon