Junior moet nuwe vliegtuig vir Zuma kry

’n Jong vlieënier by die Waterkloof-lugmagbasis wat net as mede-vlieënier gekwalifiseer is en nog nooit met stralers gevlieg het nie, is as projekoffisier aangewys om ‘n nuwe straler vir die staatshoof te koop.

Groot omstredenheid heers al geruime tyd oor die feit dat Zuma ‘n  nuwe vliegtuig wil hê, terwyl die huidige BBP-vliegtuig, die Inkwazi, niks makeer nie.

Boonop wil dit voorkom of daar reeds in beginsel besluit is om die Russiese Sukhoi Superjet (SSJ) aan te koop.

Die SSJ kan hoogstens 4 500 km vlieg en word gesien as ‘n “streekstraler” wat vasteland gebonde is. Die Inkwazi  kan net meer as 10 000 km op ‘n tenk brandstof vlieg en die Falcon 900, waarvan die weermag ook verskeie het, kan net meer as 7 000 km vlieg.

In 2009 is al besluit om nie die Sukhoi Superjet te koop nie aangesien dit te duur was en nie aan die lugmag se vereistes voldoen het nie.

Die Sukhoi Superjet se veiligheid is ook onder verdenking nadat die Russe self verlede jaar hulle hele vloot van meer as 50 Sukhoi Superjets die lug verbied ná kommer oor metaalverwering.

Daar is ook nog geen vlieënier en ander personeel wat die straler kan vlieg nie, maar die regering wil die straler reeds voor die einde van die jaar hê.

Foto: Die Inkwazi wat niks makeer maar vervang moet word