Helen Zille se posisie in die weegskaal oor Twiet

Die verlinkse DA-politikus en voormalige verslaggewer van die destydse anti-Afrikaner koerant, die Rand Daily Mail, Helen, Zille, is in die moeilikheid omdat sy bepaalde aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis verdedig het.

Sy is deur haar opvolger, Mmusi Maimane, aangekla oor haar opmerkings op die sosiale netwerk, Twitter, en ten spyte van haar verskoning, gaan sy steeds voor ‘n dissiplinêre komitee van die DA verskyn.

Zille het gesê dat nie alle aspekte van kolonialisme was negatief nie. ”Diegene wat glo die nalatenskap van kolonialisme is net negatief, moet dink aan “die onafhanklike regbank, vervoerinfrastruktuur, water, ensovoorts”, het sy gesê, en daaraan toegevoeg: “Sou ons ’n oorgang na gespesialiseerde gesondheidsdienste en behandeling gehad het sonder die invloed van kolonialisme? Wees net eerlik, asseblief.”

Haar eie partyleier, Maimane, het onmiddellik gesê haar bewoording kan nie in terme van DA-beleid geregverdig word nie.  Hy sê kolonialisme was net soos apartheid ’n stelsel van verdrukking en onderwerping. Ander DA-lede het haar ook geroskam oor haar opmerkings.

Politieke waarnemers wys daarop dat sy inderdaad verkeerd was, want die koloniale mag, Engeland, het die land na die Tweede Vryheidsoorlog in verwoeste toestand aan die Afrikaners oorgedra, wat geen kolonialiste was nie, en dit was die inheemse Afrikaners wat gebou het wat Zille met haar Engelsgesindheid nou aan kolonialiste wil toedig.

Intussen is waarnemers dit ook eens dat die DA se hantering van die saak, weer eens wys hoe min verskil daar is tussen die sentiment en beleid van die DA met dié van die ANC.

Intussen is dit onseker wat met Zille kan gebeur, en die moontlikheid dat sy as premier van die Wes-Kaap herroep kan word, word nie uitgesluit nie.

Foto: Helen Zille en Mmusi Maemane in “gelukkiger dae”