Duiwe – hantering

Duiweboere kyk mooi na hulle duiwe omdat hulle lief raak vir hulle soos ander mense lief raak vir hulle honde of ander troeteldiere. Oor korter afstande van tot miskien 350 km kan ‘n duif elke week aan ‘n wedvlug deelneem indien hy fiks en gesond is. Oor langer afstande word hy ‘n week of twee rus gegun, afhangende van die weersomstandighede. Net soos ‘n atleet word ‘n duif ook oud en kan hy gewoonlik tot op sesjarige ouderdom aan wedvlugte deelneem, alhoewel hy tot 16 jaar oud kan word.

Sover bekend het een duif 32 jaar oud geword, maar dit is een van min uitsonderings. Na ses jaar word die beste presteerders in die teelhok gebruik. Dit bring mee dat hy in sy leeftyd ongeveer 8 000 km in wedvlugte vlieg. Dit is ‘n gemiddelde skatting en kan meer of minder wees.

Dit is heilsaam vir ‘n duif om te bad. Die duif moet van ‘n oormaat olie op die vere en velskilfers wat na ‘n tyd versamel, gereinig word. Velskilfers dui daarop dat die duif ‘n gesonde gestel het want die vel ondergaan voortdurend ‘n verjongingskuur deurdat die ou boonste laag deurlopend in vlokkies deur ‘n nuwe laag vervang word. ‘n Duif sweet hoofsaaklik deur sy lugweë, maar tog is daar ‘n mate van vog wat deur sy vel afgeskei word. Daar versamel ook voortdurend stofdeeltjies op en tussen die vere wat veroorsaak dat die vere na ‘n tyd verweer. (Let maar op hoe versamel stof aan die binnekant van huise se vensterbanke). ‘n Bad een keer per week is doenlik.

Om vanselfsprekende redes moet ‘n badbak van materiaal wees wat nie kan roes nie soos sement, glas of plastiek. Sorg word gedra dat daar genoeg badplek is sodat die duiwe mekaar nie onnodig pla nie.

Ook tydens vervoer na wedvlugpunte ontvang duiwe goeie behandeling. Voldoende ruimte word in ‘n korf voorsien, asook genoeg voorsiening van water en voedsel. Lugsirkulasie en beskerming teen natuurelemente (reën en wind) geniet hoë voorkeur. Duiweboere besef dat hulle duiwe slegs topprestasies kan behaal as hulle uitstekend versorg word.

‘n Duidelike teken dat die duiwe fiks en gesond en gelukkig is, is wanneer hulle na ‘n wedvlug vol energie pronk en in die rondte trippel. Dit gebeur met alle duiwe wat goed versorg is en blydskap aan sy baas vertoon.