Duitse hof maak omstrede beslissing

Vir meer as ’n dekade lank het ’n 74-jarige man geveg om toelating te kry om sy verlamde vrou toegang te gee tot ’n “sterwensmiddel” wat haar lewe sou beëindig.

’n Hoërhof het nou, nadat die verlamde dame reeds gesterf het, bevind dat die hof haar uitermatige lyding voorheen in ag moes geneem het.

Die Duitse Federale Hof het verlede week beslis dat mense wat aan uitermatige lyding onderwerp is, die reg moet kry om ’n einde te maak aan hulle lewe.

Die hof in Leipzig het bevind dat “die reg vir ’n pasiënt wat swaar lyding verduur weens ’n ongeneeslike toestand, die reg moet hê om ’n einde aan hulle lewe te maak”.

Dit is egter in Duitsland steeds verbode om so ’n dodelike middel aan mense te verkoop, en in die toekoms sal die middel slegs deur ’n gemagtigde beskikbaar gestel word, maar dit kan eers gebeur wanneer wetgewing so ’n daad toelaat.

Verskeie mense het hulle lewe in eie hande geneem en beëindig weens ’n siektetoestand wat ongeneeslik is, maar dit is soms deur gifsoorte te drink wat erge pyn en groter lyding veroorsaak.