Druk op Fillon neem verder toe

Die druk op die Republikeinse presidentskandidaat in Frankryk het onverwags verder toegeneem toe sy amptelike woordvoerder Vrydagmiddag bekendgemaak het dat hy onttrek uit die wedloop.

Francois Fillon se woordvoerder, Thierry Solère, het sy uittrede as woordvoerder aangekondig op ’n stadium wat dit vir Francois Fillon verder bemoeilik om voort te gaan in die veldtog.

Sedert die Ondersoek Eenheid teen Korrupsie die kandidaat se huis deursoek het na moontlike bewysstukke wat teen hom gebruik kan word, het Fillon se ondersteuners hom begin verlaat.

Sy grootste probleem in die veldtog wentel om die medewerkers wat nou een na die ander sy spreekwoordelike skip verlaat.

In die afgelope weke het sowat 70 van sy werkers in die veldtog besluit om handdoek in te gooi, wat die druk op al die oorblywende werkers verhoog.

Die oud eerste minister, Alain Juppé, het blykbaar ingestem om op hierdie laat stadium as presidentskandidaat vir die Republikeine te staan indien Fillon sou besluit om terug te staan.

Alain Juppé was in die finale stryd om die Republikeinse presidentskandidaat aan te wys, slegs ’n kortkop agter Fillon, maar kenners meen dit is nou baie laat om tot die stryd toe te tree.

Foto – Alain Juppé