Dogtertjie stap kilometers om ouma te help

’n Vierjarige Russiese dogtertjie het die snerpende koue in die Russiese republiek, Toeva, trotseer om haar ouma te gaan help.

Saglana Salchak het die sneeubedekte wildernis aangedurf en agt kilometer stoksiel alleen afgelê om hulp te gaan kry vir haar siek ouma by wie sy woon.

Saglana woon by haar ouma op ’n afgeleë plek naby die grens van Mongolië, negentien kilometer weg van die naaste dorp.

Sy het egter die agt kilometer aangedurf na die naaste buurman in die omgewing met die hoop om hulp te kry.

Sy het die oggend wakker geword en gemerk dat haar ouma bewegingloos stil le, en met haar blinde oupa daaroor gepraat, waarna sy besluit het om hulp te gaan soek.

Sy het net ’n dosie vuurhoutjies saamgeneem om ’n vuurtjie te maak as die koue haar sou oorweldig, en verlaat die huis in die donker van die vroeë oggend.

Alhoewel ’n wolf haar die oggend laat skrik het, was sy vasbeslote om die tog voort te sit,

Na etlike ure se stap, het ’n buurman die kleine dogtertjie opgemerk wat vinnig na die dorp gegaan het om medikasie te kry vir die ouma.

Toe sy met behulp van die buurman weer by die huis opdaag, moes die man haar meedeel dat haar ouma oorlede is aan ’n hartaanval.

Saglana Salchak is in pleegsorg geplaas en die polisie doen ondersoek na haar moeder wat haar kind oorgelaat het in die sorg van twee mense wat liggaamlik nie meer in staat was om haar behoorlik te versorg nie.

Foto – Saglana Salchak