Boere het geen vertroue meer in polisie oor veediefstal

Die nie-aanmelding van veediefstalsake styg konstant sedert 2011en die feit dat die misdade nie aangemeld word nie, is ‘n aanduiding van die feit dat die gemeenskap sy vertroue in die hele strafregstelsel verloor het.

Dit blyk uit ‘n verklaring van die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum.

Die nie-aanmelding van veediefstal het van 36,3% in 2011 tot 70,7% in 2016 gestyg.

Die statistieke wat op 3 Maart 2017 aan die Portefeulje Komitee aangebied was, dui op ‘n styging van 2% vir die afgelope trimester. Daar is toenames in veediefstal in die Oos-Kaap en die Vrystaat provinsies met ongekende stygings in Noordwes, Mpumalanga en Gauteng, lui die NVVF se verklaring. Die aantal sake in die Oos-Kaap en die Vrystaat is baie hoër as in die ander drie provinsies, dus is die omvang baie groter. Verder is dit ‘n algemene verskynsel dat die provinsies met die meeste sake aangemeld, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal is. Die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum voel dat navorsing in hierdie verband nie langer uitgestel kan word nie.

Misdaadstatistieke kan nie in ‘n vakuum beskou word nie, aangesien daar baie ander veranderlikes is wat in ag geneem moet word.

Wanneer misdaadstatistieke en spesifiek eiendomsmisdaad beskou word, is dit noodsaaklik om ‘n vergelyking te tref met die Slagoffers van Misdaad-opname wat jaarliks deur Stats SA vrygestel word. Die Slagoffers van Misdaad-opname is toevallig op 14 Februarie 2017 vrygestel. Die verskynsel dat ‘n groot aantal eiendomsmisdade nooit by die owerhede in Suid-Afrika aangemeld word nie, blyk duidelik uit daardie syfers.