Blankes weer as die skurke voorgestel in parlement

Die EFF het sy 6% steun in die parlement aan die ANC aangebied sodat die land se grondwet gewysig kan word om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding.

Die aanbod het gekom nadat die minister van grondhervorming, Gugile Nkwinti, die moontlikheid geopper het, en dit deur ‘n adjunkminister beaam is namens die ANC by ‘n grondberaad in Durban.

Interessant genoeg het geen minister op hierdie aanbod van die EFF gereageer nie, maar ‘n betreklike junior ANC-lid het die EFF se aanbod van die hand gewys. Die EFF sê nou hy het die skynheiligheid van die ANC ontbloot, deurdat dié party nie by sy uitsprake staan nie.

Tydens die debat het blankes egter weer deurgeloop en is as verteenwoordigend van alles wat boos en verkeerd is in die land voorgestel.

Dr. Pieter Groenewald, VF+ leier het egter probeer sake reg te stel deur daarop te wys dat regmatige grondeienaars gewerk en betaal het vir hul grond. “Hulle gaan nie daaroor jammer sê nie,” het hy gesê.

Hy het daarop gewys dat wanneer die ANC-regering praat oor grond en grondonteiening sonder vergoeding, verwys dit nie net na boere en landbougrond nie, dit raak elke eienaar van grond in Suid-Afrika, van ‘n plaas tot ‘n huis in ‘n stad of ‘n dorp.  Daarom is dit belangrik dat alle grondeienaars besef dat elkeen se eiendom ter sprake is wanneer van onteiening sonder vergoeding gepraat word.

Hy het gesê dit bly jammer dat wit mense altyd die sondebok gemaak word wanneer grondhervorming ter sprake is en die regering moet net ophou om wittes die skuld te gee vir alles wat fout is. Dit is die regering se eie onbevoegdheid  dat daar nie vordering gemaak word met die grondhervormingsproses nie.  “Oor grondbesit moet dit duidelik gemaak word dat die regmatige eienaars van grond en eiendom in Suid-Afrika diegene is wat daarvoor gewerk het, wat dit betaal het, en wat ‘n titelakte in die akteskantoor het.  Daardie mense is die regmatige eienaars, en dit is nie moontlik om sulke mense se eiendom net af te neem sonder vergoeding nie.”