Bekende wildboer hou reuse veiling

’n Wildboer van Thabazimbi het pas ’n uiters suksesvolle wildveiling gehou waartydens hy ’n omset van kort duskant die R45 miljoen gehad het.

Mnr. Dries Visser het erken dat hy baie tevrede is met die veiling wat meer as R44 miljoen omset gelewer het tydens sy eerste veiling.

Kenners het na die veiling gesê dit is duidelik dat die wildboerdery steeds ’n groeiende bedryf is wat ’n rooskleurige toekoms tegemoet gaan.

Te midde van die goeie omset van R44,7 miljoen, het mnr. Visser tog sy spyt uitgespreek oor sekere diere wat vir minder verkoop is as wat die werklike jagwaarde is.

’n Swart rooibokram het slegs vir R35 000 verkoop terwyl jong ramme tot R45 000 gehaal het.

Visser sê hy kan ’n swart rooibok teen soveel as R65 000 verkoop in die VSA, wat aansienlik meer is as wat op die veiling behaal is.

Een van sy swartwitpens bulle het R1,1 miljoen behaal en koeie wat dragtig is van die bul het tot R950 000 gehaal.

Koedoebulle en -koeie het goeie gemiddelde pryse behaal, maar die kroon was die twee swartwitpens bulle, Olmeca en Mumba, wat R3,5 miljoen en R3,6 miljoen elk behaal het.