Aanslag teen Le Pen het weinig impak

Die ontneming van Marine Le Pen se parlementêre immuniteit het weinig of geen impak op haar gewildheid as presidentskandidaat nie, en kan selfs ’n voordeel wees wat mettertyd sal realiseer.

Dit is die mening van ’n politieke ontleder in Europa wat die Franse verkiesing op ’n daaglikse basis ontleed.

Marine Le Pen, die presidentskandidaat van die nasionalistiese Franse Front Nasionaal, het in die linkse media se spervuur beland nadat sy foto’s van die wreedheid van Islamitiese Staat terroriste op die sosiale netwerk geplaas het.

Die vorige keer wat die Europese Parlement haar immuniteit opgehef het, was toe sy op die Internet gegewens vrygestel het oor die Moslems, wat deur die linkses as rassisme beskou is.

Die media in Europa span saam met linkse politici kragte om Le Pen se kandidatuur af te kraak uit vrees dat sy die huidige voorsprong onder Franse kiesers kan handhaaf en verkies word tot Frankryk se president.

Die politieke ontleder meen die kiesers het kennis geneem van die feite rondom die foto’s wat geplaas is, en vertolk dit as die gevaar wat ook vir Europa bestaan as onwettige immigrante voetstoots toegelaat word.

Hy sê die plasing van die foto’s moes eerder geïgnoreer gewees het, wat veel minder aandag op haar sou vestig, maar nou het dit haar ondersteuningsbasis waarskynlik verder vergroot.

Le Pen kan nou vervolg word, en ’n boete kan opgelê word vir die plasing van die gruwelike foto’s, maar die vermoede bestaan dat die ondersteunende kiesers finansieel sal bydra om die boete te betaal.

Die aanslag teen Le Pen verskil van die probleem wat Francois Fillon, presidentskandidaat van die Republikeine, ondervind wat aangekla word dat hy homself finansieel verryk het deur sy vrou te betaal terwyl sy nie vir hom gewerk het nie.

Kenners beskou die optrede van die Europese Parlement teen Le Pen as sinneloos en grens aan kortsigtigheid wat nie van die instelling verwag word nie.

Foto – Advokaat Marine Le Pen