Wilders kan nuwe regering vorm

Nederland hou op 15 Maart algemene verkiesing, en meningspeilings in die land toon dat mnr. Geert Wilders van die Vryheidsparty die grootste steun geniet en die nuwe regering kan vorm.

Na die uittrede van die regering se minister Van der Steur is ’n drastiese afname in steun ondervind vir die regerende VVD terwyl ’n toename in steun vir mnr. Geert Wilders se Vryheidsparty (PVV) waargeneem is.

Talle kleiner partye sal aan die verkiesing deelneem, maar die twee groter partye sal bepaal wie die land vir die volgende termyn regeer.

Volgens die peiling bly Geert Wilders se PVV die grootste party, met die regerende VVD in die tweede plek.

Die Nederlandse regering het besluit om die komende algemene verkiesing sonder die gevorderde tegnologie te finaliseer deur die stemme per hand te tel om inmenging uit vreemde oorde te voorkom. Die Nederlandse RTL-Nuus het die inligting Donderdag vrygestel in ’n berig wat klaarblyklik daarop gerig is om kiesers betyds in te lig oor die verkiesing.

Nederland het die besluit geneem nadat die Amerikaanse CIA bevind het dat vreemde elemente ingemeng het met die pas afgelope Amerikaanse verkiesing.

Beskuldigings is gemaak dat die “kapers” uit Rusland afkomstig is, maar geen konkrete bewyse kon voorgelê word dat dit wel Moskou se betrokkenheid was nie.

Ronald Plasterk, die Nederlandse minister van binnelandse sake sê die verkiesing se uitslae sal ietwat langer neem om bekend gemaak te word weens die “terugkeer na die ou metodes” weens sekuriteit redes.

Foto – Geert Wilders