Wilders het die meeste steun

Die twee politieke leiers, Geert Wilders en Mark Rutte, wat die grootste partye in Nederland verteenwoordig, het albei die TV sender RTL, in kennis gestel dat hulle nie teenwoordig sal wees by die debat wat gereël is nie.

Geert Wilders, wat in Nederlandse koerante beskou word as die politieke leier wat die meeste steun geniet onder kiesers, sowel as premier Rutte, het hulle afwesigheid bekend gemaak, wat meebring dat die debat waarin vyf politieke partye betrokke sou wees, nie meer gehou word nie.

Wilders het die TV sender eerste in kennis gestel dat hy nie teenwoordig sal wees nie aangesien die TV diens die oorspronklike ooreenkoms verbreek het.

Kort daarna het Rutte dieselfde voorbeeld gevolg omdat die TV kanaal aanvanklik vier partye sou laat deelneem, en op ’n later stadium ’n vyfde party met baie min steun, ook sou toelaat.

’n Ander TV-kanaal het intussen ’n debat gereël wat tussen Wilders en Rutte sal plaasvind kort voor die Maart verkiesing.

Alhoewel Geert Wilders se Vryheidsparty die grootste steun geniet, blyk dit dat hy nie maklik as premier aangewys sal word nie aangesien die ander partye nie gretig is om saam met hom in ’n koalisieregering saam te werk nie.

Foto – Geert Wilders