Wêreld Nuusflitse – 13 Februarie

België

In België verkies 70% van eienaars van nuutgeboude wonings dat die eiendom met voldoende sonpanele toegerus word ten einde die duurder elektrisiteit te vermy.

 

Spanje

Premier Mariano Rajoy is die afgelope naweek tydens die partykongres herkies as leier van die konserwatiewe Volksparty in Spanje.

 

Pole

Die konserwatiewe Poolse eerste minister, Beata Szydlo, verkeer in ’n bevredigende toestand in ’n hospitaal nadat haar voertuig in ’n ernstige motorbotsing betrokke was.

 

Ghana

Die nuutverkose president van Ghana, president Nana Akufo-Addo, soek glo na 200 van sy voertuie wat weggeraak het nadat gebruikers daarvan dit nie terug besorg het nie.

 

België

Die Nasionale Bank van België sê in sy jaarverslag dat die land se ekonomie in ’n opwaartse fase is en dit kan tot 59 000 nuwe werksgeleenthede skep wat die land se werkloosheid aansienlik sal verminder.

 

Islamitiese Staat

Die leier van die Islamitiese Staat terroriste beweging,  Abu Bakr al-Baghdadi, word na bewering reeds etlike weke lank vermis, en die vraag bestaan of hy ongesteld is, of moontlik gewond is, of selfs gedood is met die onlangse lugaanvalle.

 

Angola

Minstens 17 sokker geesdriftiges is dood in Uige, in die noorde van Angola tydens ’n byeenkoms, en dosyne is ernstig beseer toe hulle toegang tot die stadion geweier is wat reeds oorvol was.