Weerstand bou op teen CNN

Dit is nie net die konserwatiewe Amerikaners wat ’n hekel aan die uitsendings van die linkse CNN TV diens het nie, maar die regering in Venezuela het ook besluit om teen die sender op te tree.

Inwoners van Venezuela sal voortaan nie meer na die verlinkse CNN se Spaanse uitsendings kan kyk nadat die regering dit geblokkeer het nie.

Die regering het die maatreël ingestel en in ’n amptelike verklaring aangekondig dat die stap noodsaaklik is “aangesien CNN die waarheid verdraai”.

Die Nasionale Kommissie vir Venezuela Telekommunikasie het die bevel uitgereik dat die kanaal se sein opgeskort word.

As verdere rede is aangevoer dat CNN die vrede in die land bedreig en die demokratiese stabiliteit van die bevolking benadeel.

CNN het hom beroep op persvryheid, maar kenners meen persvryheid gaan ook gepaard met sekere verantwoordelikhede, wat onder meer beteken dat die waarheid altyd geld, en die demokrasie mag nie bedreig word nie.

Die sosialistiese president Nicolas Maduro het glo gesê die CNN se Spaanse kanaal moet vir goed uit Venezuela verban word.

Intussen word berig dat die president se kanse om in die volgende verkiesing deur die opposisie onttroon te word, ’n al sterker moontlikheid word.