VSA: Grensmuur kom gouer as beplan is

President Donald Trump het tydens sy toespraak by ’n konserwatiewe byeenkoms die teenwoordiges belowe dat die grensmuur tussen Amerika en Meksiko gouer opgerig gaan word as wat aanvanklik beplan is.

Hy het weer beklemtoon dat sy regering sodanig optree dat dit in belang van Amerika en sy mense is, en daarom word die muur opgerig as ’n veiligheidsmaatreël teen indringers wat gewelddadig is.

Die geleentheid wat in Maryland gehou is, was deur baie ondersteuners bygewoon, wat ook gehoor het dat hy hom beywer om die “slegte mense wat van ander lande gekom het, uit die land te deporteer”.

Trump het ook onderneem om die Amerikaanse weermag groter en sterker te maak as wat dit nog ooit voorheen was.

Hy sê die regering gaan “dus ’n enorme begroting vra om die weermag uit te brei en op te gradeer met die nodige toerusting.

Die president het egter die hoop uitgespreek dat alhoewel die uitbreiding nodig is, dit nooit nodig sal wees om te gebruik teen ander magte nie.

Die Amerikaanse uitgawerekening vir verdediging is drie keer groter as Sjina en twee keer groter as Rusland se begrotings.

Intussen het die Meksikaanse regering gewaarsku dat die VSA se oprigting van ’n grensmuur kan beteken dat Meksiko groot uitvoerheffings kan instel teen Amerika.