Vreemdelingehaat

Vreemdelinghaat vlam van tyd tot tyd in Suid-Afrika op. Dat dit veroordeel behoort te word, is noodsaaklik omdat dit teenstrydig is met beskaafde optrede.

Maar daar is twee kante van ‘n saak. Wat veroorsaak die vreemdelinghaat? In die eerste plek is hier ‘n geweldige groot getal vreemdelinge wat onwettig die land binnegekom het en hulself dus nie kan verontskuldig nie. Enigiemand wat ‘n wet of wette van ‘n land oortree, hetsy ‘n plaaslike inwoner of ‘n buitelander, het geen verskoning nie en moet gestraf en die bedrywighede gestaak of omgekeer word.

Dit word dikwels voorgehou dat niemand die reg in eie hande moet neem nie, maar sake aan die polisie moet oorlaat. Baie mooi, maar as die polisie, miskien as gevolg van administratiewe rompslomp, nie in ‘n redelike tyd optree nie, wat moet die plaaslike inwoners doen as hulle dag tot dag benadeel word?

Onwettige vreemdelinge ontneem plaaslike inwoners van werksgeleenthede terwyl hier reeds ‘n buitengewone hoë werkloosheidsyfer bestaan en wettige landgenote krepeer.

In nuusberigte word ondubbelsinnig uitgespel dat die vreemdelinge teen wie die haat gerig is, met onwettige bedrywighede soos dwelmhandel en prostitusie besig is. Plaaslike inwoners is genoodsaak om hulle familie en veral hul kinders te beskerm voordat hulle in die strikke opgeneem word.

Die vreemdelinge is vinnig om hulself te probeer verdedig deur ‘n beroep daarop te doen dat almal in vrede moet saamleef terwyl hulle grootskaalse skade veroorsaak. Dit klink asof die polisie (regering) aan hulle kant is omdat die “onrusstokers” wat hulself probeer verdedig gearresteer word. Skynbaar word geen onwettige vreemdelinge of dwelmhandelaars in hegtenis geneem nie.

Wat het van wet en orde geword as die selfverdedigers veroordeel word?

Denker