Voormalige LUR strafregtelik vervolg

Nadat die ombudsman vir gesondheidsdienste ‘n verdoemende verslag vrygestel het, waaruit dit blyk dat 94 psigiatriese pasiënte in Gauteng dood is nadat die gesondheidsdepartement hulle verskuif het na nie-geregistreerde instellings, het die LUR die hasepad gekies en bedank.

Qedani Mahlangu se hoop om daardeur verdere aanspreeklikheid vry te spring, is waarskynlik ‘n ydele hoop, want VF+ het onmiddellik aangedui dat hy strafregtelike klagtes teen haar gaan indien.

Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het gesê dat ongeag die aantal pasiënte wat in die ombudsman se verslag afgesterf het weens nalatigheid van die LUR en haar departement, was een sterfte reeds te veel en sal die LUR die verantwoordelikheid vir hierdie gebeure ten volle moet aanvaar en sal sy die volle gang van die gereg in die gesig staar.

“Daar bestaan geen twyfel dat die LUR deur die VF Plus strafregtelik aangekla gaan word nie.  Die ombudsman se verslag handel wel net oor die afsterwe van die psigiatriese pasiënte, nadat hulle deur die LUR en haar departement vanaf Life Esidimeni-klinieke verskuif is na nie-regeringsorganisasies in die provinsie, maar die VF Plus se klagtes sal ook die onverklaarbare sterftes van pasiënte deur nalatigheid in Gauteng se staatshospitale insluit.”

Van Staden sê dat Mahlangu aangekla sal word van nalatigheid, strafbare manslag en waarskynlik moord (dolus eventualis).  In laasgenoemde geval het die LUR heelwaarskynlik vermoed dat die psigiatriese pasiënte kan sterf by die nuwe “onbevoegde” organisasies maar het nog steeds voortgegaan met die uitplasing.  Wat die ander pasiënte wat in hospitale weens nalatigheid gesterf het betref, het sy toegelaat dat behandeling voortgaan sonder dat die hospitale aan behoorlike standaarde voldoen.  Die VF Plus wil verhoed dat die LUR hiermee wegkom deur net te bedank uit haar pos as LUR en wil eerder toesien dat sy die nodige straf kry vir haar opsetlike en nalatige dade,” sê mnr. Van Staden

Foto: mnr. Philip van Staden