Vaaldam weer stampvol

Die mildelike reëns van die afgelope twee weke het verseker dat die Vaaldam weer vol is, en minstens twee van die sluise is oop omdat daar steeds ’n invloei na die dam is.

Die reën in die dam se opvanggebied het verseker dat die Grootdraaidam etlike weke gelede reeds die 105% merk bereik het, en moes die sluise oopgemaak word wat ook die invloei na die Vaaldam aangevul het.

Met twee sluise oop, is inwoners laer af teen die Vaalrivier gewaarsku om bedag te wees op die sterker stroom water wat eiendom kan beskadig.

Die vermoede bestaan dat die owerhede van Sentraal Transvaal binnekort die waterbeperkings sal ophef wat verlede jaar ingestel is toe die dam se waterinhoud tot so laag as 24% gedaal het.

Die afvloei van water uit die Vaaldam sal eers oor ’n week of meer die Bloemhof dam bereik om die dam se waterinhoud aan te vul.

Kenners het voorspel dat dit vyf jaar kan neem voor die Vaaldam weer ’n 100% vlak gaan bereik, maar hulle het hulleself misgis met Moeder Natuur wat die dam binne twee maande vol gemaak het.

Foto – Vaaldam