Twee Italiaanse banke struikel

Twee van die bekende Italiaanse Banke, UniCredit en Monte dei Paschi di Siena (MPS) het in die vierde kwartaal van 2016 afgesluit met miljarde euro in die rooi.

UniCredit toon ’n tekort van 13,6 miljard euro, en MPS het ’n negatiewe afsluiting getoon van sowat 2,5 miljard euro.

Finansiële deskundiges in Italië meen die verlies van beide banke kom nie as ’n verrassing nie.

UniCredit het glo voorsiening gemaak vir ’n tekort van 13 miljard euro op die verkoop van slegte skuld in die vorm van lenings.

UniCredit wat die grootste bank in Italië is, se omset het met sowat 11% gekrimp weens laer opbrengs op lenings toegestaan.

Onlangs moes die regering help om die oudste bank in die wêreld te red van ondergang, en daarom begin die Italiaanse bevolking bekommerd raak oor die veiligheid van hulle bates in die verskillende banke.

Groter beleggers is ewe bekommerd en wag nou om te sien watter volgende stappe gedoen gaan word deur die bankiers wat weer die vertroue sal herstel.