Trump kry kritiek van nuwe regter

Kwalik ’n week nadat Neil Gorsuch deur president Donald Trump as kandidaat aangewys is vir die amp as regter van die Amerikaanse hooggeregshof, lewer hy sterk kritiek teen die president.

Regter Gorsuch het kritiek gelewer op die president se uitsprake op die sosiale netwerk Twitter waar hy na ’n ander regter verwys het as “sogenaamde regter”.

Die president het die uitlating gemaak na aanleiding van die hooggeregshof se bevinding dat die immigrasie dekreet van president Trump voorlopig opgeskort word.

President Trump het klaarblyklik die opmerking gemaak nadat ’n ander regter in een van die ander deelstate beslis het dat die president wel oor die reg beskik om die immigrasie dekreet van toepassing te maak.

Waarnemers meen egter dat die president hom daarvan moet weerhou om mense soos regter James Robart persoonlik aan te val deur na hom te verwys as “sogenaamde regter” omdat hy nie met die regter se bevinding saamstem nie.

Regter Gorsuch noem die opmerkings van president Trump, “ontmoedigend en demoraliserend”,

Die regter het tydens sy ontmoeting met die Demokrate se senator Richard Blumenthal van die staat Connecticut sy mening oor die president se uitlatings gegee, en woordvoerders sê die regter het sy woorde met groot versigtigheid gekies.

Talle hooggeplaastes in die Republikeinse hiërargie het ook hulle misnoeë te kenne gegee oor Trump se uitlatings in die sosiale netwerk.

Die Amerikaanse senaat moet nog die aanstelling van die konserwatiewe Neil Gorsuch finaal goedkeur, wat ook verklaar waarom hy uiters versigtig was met sy woordkeuse.

Foto – Regter Neil Gorsuch