Toenemende weerstand teen Trump uitsprake

Die delikate balans wat president Donald Trump moet handhaaf tussen sy eie onderneming en die verpligtinge as Amerikaanse president het die week sy onderskeidingsvermoë getoets.

Die president se ekonomiese belange wat oorgedra is na sy familie het vir die eerste keer daartoe gelei dat hy vir sy dogter se belange, wat deel is van die Trump-onderneming, moes skerm en verdedig.

Die verdediging van Ivanka se klerebedryf het gekom nadat ’n groot kliënt besluit het om nie langer die Ivanka-ontwerpe aan te bied aan sy kliënte nie.

Koerante in die VSA, asook die TV kanale, beweer dat die gebeure rondom die ontwerpersklere selfs deur Trump se woordvoerder in die Wit Huis hanteer is, wat as ongehoord bestempel word.

Die Wit Huis se woordvoerder, Sean Spicer, het later die saak probeer beredder en gesê die president het die volste reg om sy familie se belange te beskerm.

Nordstrom is ’n groot sakeonderneming met sowat 350 winkels regoor Amerika en Kanada wat tot hede Ivanka se ontwerpe aan hulle kliënte verskaf het, maar nou besluit het om dit te staak weens Trump se dekreet oor immigrante uit sewe lande in die Midde-Ooste.

Die maatskappy het ’n boodskap aan al sy personeel gestuur waarin gesê word die maatskappy is ten gunste van voortgesette toelating van immigrante uit die sewe state en het besluit om die produkte nie langer te bemark nie weens die “drastiese daling in aanvraag”.