Stygende kommer in Frankryk en Duitsland

Die Duitse minister van buitelandse sake en sy eweknie in Frankryk se groeiende bekommernis oor veranderde politieke gebeure in die wêreld is waarskynlik nie sonder rede nie.

Die standpunte van nasionaliste in Europa sowel as die beleid van die Amerikaanse president oor Rusland, die Oekraïne en die Verenigde Nasies laat die leiers in Duitsland en Frankryk met ernstige kommer.

President Trump se maatreël teen sogenaamde vlugtelinge wat toegang verbied word in die VSA is ’n bron van groot kommer vir Europa wat moontlik al meer vreemdelinge sal moet toelaat.

Die gebeure, tesame met die groei in volksnasionalisme wat in verskeie lande van  Europa ondervind word, is ’n  bron van kommer vir die twee lande wat vanjaar nog verkiesings hou.

Daarbenewens is president Trump geneë om ’n beter verhouding met Rusland te kweek, wat Frankryk beïnvloed aangesien die Republikein François Fillon en Marine Le Pen van Front Nasionaal dieselfde siening huldig.

Duitsland se minister van buitelandse sake, Sigmar Gabriel, het die naweek gepleit dat groter samewerking tussen die Europese lande bewerkstellig moet word om weerstand te bied teen “toenemende Russiese bedreigings” en die verswakte verhouding wat met die VSA ontwikkel het.

Die Franse sosialistiese minister van buitelandse sake, Jean-Marc Ayrault, het gesê as Frankryk en Duitsland eenders dink en doen oor buitelandse sake, het Europa nie nodig om te vrees nie.

Beide lande vrees dat die VSA sy sanksies teen Rusland gaan ophef as ’n gebaar van beter verhoudinge tussen Amerika en Rusland.

Foto – Francois Fillon