Stevia die natuurlike versoeter uit die tuin

Stevia is ‘n natuurlike versoeter wat in die plek van suiker gebruik word. Dit is heeltemal plantaardig en bevat nie skadelike bestanddele nie.

Stevia ‘n kruieplant en van die spesie Stevi rebaudiana. Dit is nogal ‘n mooi plant en laat ons aan die muntplante dink. Dit is baie maklik om Stevia self te plant en dit aard goed in goed dreinerende grond. Stevia plantjies kan in beddings of in potte geplant word. Stevia groei baie goed in vogtige klimate en aard baie goed waar basilie en origanum groei.

Stevia is uitheems en kom vanaf Paraguay en ook die tropiese gebiede van Amerika. Die blare van Stevia is smal, klein, spiesvormig en groei dig op die stamme. Indien die klimaat warm is waar Stevias geplant word, groei hul tot 50 cm en in koeler klimate word hulle 20 cm hoog. Die takke en blare groei dig en is heldergroen.

Hierdie plante kan van saad groei, maar die beste is om plantjies aan te koop en uit te plant. U kan self ook stukkies van die plant afbreek met wortels aan en dit so voortplant. Steviasaad ontkiem nie maklik in koue gebiede nie. Plant die plantjies omtrent 25 cm uitmekaar aangesien dit dig en wyd sprei. Plant hierdie plante eers buite nadat al die ryp en koue weg is. Hulle is baie rypgevoelig. Hulle verkies om oggendson te kry en sal van middagskadu hou.

Die versoeters van Stevia word van die droë blare gemaak. U kan dit self droog en fynstamp en in u kos gebruik. Dit het geen nasmaak nie en die soettande kan met gemaak daarmee bak ook. Daar word deesdae Stevia ekstrak ook in die gesondheidsafdelings van supermarkte te koop aangebied. Gewoonlik kan ons dit in poeiervorm kry. Dit is baie soeter as suiker en u sal dus baie min gebruik in ‘n koppie tee of koffie.

Geniet u tuin tot volgende keer