Senior werknemer van VW kry miljoene

Duitse koerante berig dat Christine Hohmann-Dennhardt sowat 12 miljoen euro ontvang van Volkswagen nadat sy onverwags haar uittrede aangekondig het as hoof van die regsafdeling.

Die voormalige regter het by Volkswagen sowat ’n jaar gelede aangesluit as hoof van die afdeling, maar het besluit om uit te tree kort nadat haar kontrak glo volledig nagekom is.

Christine Hohmann-Dennhardt wat voorheen ’n senior regter in die Duitse Federale Grondwethof was, het die motorvervaardiger se aanbod verlede jaar aanvaar om deel te word van die Raad van bestuurders.

Sy moes as hoof van die vervaardiger se regsafdeling, ook toesien om Volkswagen se integriteit en beskadigde beeld herstel na die diesel-skandaal wat die maatskappy miljarde euro uit die sak gejaag het.

Volkswagen se woordvoerder het glo gesê die uittrede kom weens verskille wat bestaan in die verstandhouding oor haar verantwoordelikhede en toekomstige verpligtinge in die regsafdeling waar sy die leiding moet neem.

Waarnemers meen sy het in ’n hewige botsing gekom met die hoofbestuur van Volkswagen oor haar rol as hoof van die regsafdeling.

Hiltrud Werner, die huidige hoof van die ouditeurs afdeling is aangewys in die amp wat dur die voormalige regter beklee is.

Foto –  Christine Hohmann-Dennhardt