Saamstaan vir wat?

Ons moet net saamstaan.

Dit was die een versugting wat die afgelope week dikwels op die sosiale media opgemerk is, na die parlementêre sirkus tydens Zuma se sogenaamde staatsrede (wat in wese niks anders was as ‘n partypolitieke praatjie vir sy ondersteuners nie), die geweldige vlaag plaasaanvalle met gepaardgaande moorde, en nou ook die steeds meer wordende aansprake dat grond sonder vergoeding gevat moet word.

Die webwerf Landbou.com het ‘n meningsopname gemaak waarin gevra word of mense dink dat Zuma en die regering radikale ekonomiese transformasie kan deurvoer. Meer as 81% van die deelnemers sê dat hulle nie dink dat die regering dit sal kan deurvoer nie. Dit beteken dat die meerderheid van die mense doodgerus is en reken dat die ANC-bewind dus eintlik niks gaan verander nie.

Die vraag ontstaan dan: waarom moet ons saamstaan as ons nie werklik dink dat daar ‘n bedreiging is nie?

Dit is dalk die grootste probleem wat daar onder ons mense heers: aan die een kant die ontkenning dat daar werklik probleme is, en aan die ander kant ‘n moedeloosheid dat die probleem te groot is vir ons paar om iets daaraan te doen. Maar tog is daar die gedagte om saam te staan, om dan sterker te wees.

Maar sou ons die dag saamstaan en bymekaarkom, is die vraag: waarvoor? Om net by mekaar uit te kom, is soos die keffertjie wat die grote bus vang, en dan nie weet wat om daarmee te doen nie.

As ons wil saamstaan, sal dit moet gebeur om baie duidelik uitgestippelde doelwitte of aksies.

As ons wil saamstaan omdat ons dink die parlement is ‘n gekkespul (wat dit is), dan moet ons vir mekaar sê dat ons daar niks mee te doen wil hê nie en dat ons ons vir ‘n ander bedeling gaan beywer. Dit sal tog onsinnig wees om te dink dat as Afrikaners nou saamstaan, die parlement skielik weer beskaafd gaan word, en dit terwyl die ANC, EFF, DA en ander steeds daar is en sal voortgaan om daarvan ‘n bespotting te maak.

As ons wil saamstaan omdat ons ontevrede is oor die plaasmoorde, moet ons besef dat die blote saamstaan, dit nie skielik gaan laat ophou nie. Dan moet ons besluit dat ons daadwerklik wil optree om dit te stuit, omdat die polisie dit nie doen nie. Dan moet ons besluit om weer ons eie private kommando’s in te stel, dat ons onsself wettig gaan bewapen, ons omgewing gaan beveilig en dat ons genadeloos met terroriste gaan handel en sodoende ‘n sterk boodskap uitdra.

As ons wil saamstaan om ons eiendom te beskerm teen onteiening sonder vergoeding, sal ons met mekaar moet afspreek, selfs ‘n soort van ‘n verbond sluit, dat ons nie ons grond goedsmoeds gaan weggee nie, en dat ons ons eie, en ons volksgenote, se besitreg sal verdedig met alle moontlike middele.

As ons wil saamstaan, moet ons besef dat dit offers gaan verg – meer as net ‘n holklinkende galbrakery op sosiale media. Dit gaan beteken dat ons dalk in direkte konfrontasie met die huidige onbevoegde, korrupte en volksvyandige bestel kan kom.

As ons daarvoor kans sien, moet ons inderdaad saamstaan en in beweging kom.  Dit sal ook beteken dat ons nie vrywillig alles moet doen wat die ANC in volksvernietigende wetgewing probeer af forseer nie. Dan moet ons nie toegee aan sogenaamde BEE-doelwitte en telkaarte nie; dan moet ons nie toegee daaraan om ons besighede, maatskappye, boerderye gedeeltelik weg te gee deur bloot aandele aan volksvreemdes te gee ter wille van ‘n regeringsgradering nie; dan moet ons nie registreer vir waterregte nie, sodat die ANC geld kan maak uit die water wat God uit die hemel en uit die aarde vir ons gegee het.

Dan moet ons mekaar ondersteun – ons eie sake-ondernemings ondersteun en ons geld weerhou van dié wat dit gebruik om die regering ter wille te wees; ons moet ons volkseie skole ondersteun sodat ons kinders reg opgevoed kan word; ons kultuur onderhou, ons taal onberispelik praat en weer trots word op ons volkskap.

Daar is dus talle geleenthede om te kan saamstaan, maar dit moet deeglik bepaal word, en belangrikste van alles: daar moet by gehou word, anders is dit futiel.