Poolse regering eis EU hervorming

Jaroslaw Kaczynski van die konserwatiewe Poolse regering het in ’n verklaring geëis dat die Europese Unie (EU) noodsaaklike hervormings ondergaan.

Die opmerking is gemaak kort voor die aankoms in Pole van Bondskanselier Angela Merkel van Duitsland wat ’n amptelike besoek bring voor die aanvang van die Duitse verkiesingsveldtog in September.

Kaczynski is een van talle wat kanselier Merkel te woord sal staan met haar besoek wat in die Poolse hoofstad Warskou plaasvind.

Kaczynski is voorsitter van die regerende nasionalistiese Reg en Geregtigheid Party waarvan Beata Szydlo die premier is.

Die voorsitter van die party het in die verklaring daarop gewys dat die EU oor die algemeen redelik suksesvol was, maar die sogenaamde vlugtelingebeleid waarvan kanselier Merkel die argitek is, was ’n reuse fout en moet verander word.

Kanselier Merkel het Woensdag in Warskou aangekom om eerstens met die Poolse eerste minister, Beata Szydlo, te beraadslaag, en sal ook geleentheid kry om te vergader met president Andrzej Dud.

Kaczynski het later ook gesê die Amerikaanse president, Donald Trump, is reg toe hy gesê het die EU is tans net tot voordeel van Duitsland, en dit is ’n ongesonde toestand.

Foto – Angela Merkel en Beata Szydlo