Patricia loop dalk oor korrupsie

Patricia de Lille, DA-burgemeester van kaapstad, wat onlangs bedank het as DA-leier van die Wes-Kaap, het moontlik om ander redes bedank as wat sy aangegee het. Sy het gesê sy ontruim die pos omdat sy meer aandag wil gee aan haar take as burgemeester, wat veral sal fokus op die uitskakeling van ongelykhede.

Die Vryburger het reeds voorheen berig van die Kaapstadse Speaker en nog ‘n raadslid, intern verhoor is onreëlmatighede, waaruit selfs moontlike strafregtelike klagtes kan volg. Dit wil nou voorkom of De Lille daarby betrek word, in die sin dat sy probeer het om hulle korrupsie toe te smeer. Sy het probeer inmeng in die tugverhoor van een van haar groot vertrouelinge, Shaun August. August en Metthew Kempthorne is beide met R50 000 beboet vir bedrog.

Uiteraard ontken sy die bewerings, maar dit word nou duidelik dat daar wel onreëlmatighede binne die DA plaasgevind het.

Skynbaar het sy en die party se leier al verskeie kere oor verskillende kwessies vasgesit, soos toe sy die ontlastinggooier Loyiso Nkohla aangestel het in die stadsraad.  Blykbaar is sy en Helen Zille ook nie meer op die goeie voet wat hulle voorheen was nie.

Daar is bedenkinge of sy haar termyn as burgemeester sal kan voltooi as dit sou blyk dat sy wel by die sake betrokke was.

Foto: Patricia de Lille en Helen Zille saam dansend om kiesers te werf