Parlementariërs vra Fillon se uittrede

Parlementslede en ondersteuners van die voormalige Franse president, Nicolas Sarkozy, het die inisiatief geneem en Maandag bymekaar gekom om te eis dat ’n ander Republikeinse kandidaat genomineer word in die plek van Francois Fillon wat behoort terug te staan.

Die 17 parlementariërs het bymekaar gekom in Parys waar hulle besin het oor die grondwetlike vereistes om as presidentskandidaat in die wedloop te bly.

Alhoewel geen amptelike bewysstukke nog na vore gebring is om Fillon van korrupsie te verdink nie, blyk dit dat sy kandidatuur nie goeie gevolge inhou nie.

Die 17 lede beoog om ’n dokument op te stel wat deur parlementslede onderteken kan word wat eens is dat Fillon vervang word met ’n ander Republikeinse kandidaat.

Hulle stuit egter teen die vasgestelde prosedure wat gevolg word om ’n presidentskandidaat te verkies, maar glo daar behoort ander metodes gevolg te word in uitsonderlike gevalle.

Waarnemers meen egter dat die parlementslede nie veel steun sal kry nie aangesien Fillon by herhaling beklemtoon het dat hy nie van plan is om terug te staan nie.

Kenners wys daarop dat ’n ander kandidaat waarskynlik nie nou beskikbaar sal wees so kort voor stemdag in April nie.

Fillon het gistermiddag gesê indien hy nou sou terugstaan, dit ’n groot krisis vir die Republikeine sal veroorsaak.

Foto – Kandidaat Francois Fillon