Op die volksakker – hoe die slagofferbloed vertrap word

Dit was tot hede my beleid om baie omsigtig te wees met kommentaar wat die slagoffers en naasbestaandes van geweldsmisdaad, veral volksmoord, onnodig in die kalklig plaas – die risiko is dat die pyn van die geweld misgekyk of dryfveer vir sensasie kan word.  Maar die vlaag van geweld teen ons volk en die klaaglike misbruik en miskenning deur “leiers” in die openbare oog skreeu om protes. En protes vereis dat ons die naakte waarheid onbeskroomd sal blootlê.

Van Zuma en ANC miskenning kan ons bloot sê: ons weet reeds dekades dat hierdie aanslag op ons volk in die hoogste kringe beplan en aangevuur word, daarom in hul mompelings hieromtrent bloot leuenagtige miskenning.

Wat skokkend-skandalig is uit die politieke kommentaar, is dat die volksmoord “eensklaps” in die politieke kollig geplaas word deur sogenaamde opposisiepartye – partye wat bloot politieke munt wil slaan uit ´n skielike toename in volksmoord-aanvalle, terwyl hulle vir meer as twee dekades bykans deurlopend geswyg het.

Veral die DA se skynheilige “besware” moet met minagting verwerp word: hulle is bloot die verbastering van die liberale partye wat dekades reeds werk aan die omverwerping van ons land, ons erfenis, en die “nasionaliste” wat dit deurgevoer het.  Die VF het eweneens die volk klaaglik in die steek gelaat: om die 1993-akkoord aktief te propageer sou seker hul parlementêre salarisse in die gedrang bring. En moet nie vergeet dat die party gretig mede-regeerder in Zuma se eerste kabinet was nie!

Natuurlik word die gerieflike etikette “misdaad”, selfs “haatmisdaad” gebruik, want dit sou te veel vra om te erken daar is ´n planmatige volksmoord aan’t ontvou.  Is dit miskien waarom van die internasionale geregshof onttrek word – net ingeval?

Wat egter veral dwars in die krop steek, is die skokkende nuuskommentaar oor die voormalig vryheidsgesinde radiostasie en hul broederkring:   Blatant word verkondig dat slegs die radio en sy vakbondbase se aanlyn koerant deeglik verslag doen van aanvalle op “ons mense”.  [My mense, ons mense strewe na vryheid en ´n land geskoei op Christen-waardes, nie ´n sosialistiese vakbond-utopia nie.]

Dit is nou dieselfde kring waaruit “volksmoord”, gegrond op ras, ontken was op nasionale televisie skaars twee jaar gelede.  [Kyknet, Mei 2015; Plaasmoord of Volksmoord? – Verkenners mediaverklaring 19 Mei 2015]

Dieselfde kring wie se meningsvormers in 2008 saam met Zuma braaivleis gehou het. Wat “sing saam, staak saam” as grondslag sien vir samewerking met die ANC en sy bondgenote, ter bevordering van die “suksesverhaal” wat SA geword het.  [Ons gaan ook ‘struggle’ liedjies sing, sê Afrikaanse organisasies; Praag 1April 2012]

Dieselfde broederkring waar hand-aan-hand gewerk word met die voormalige volksverraaier.

WAT IS DIE WAARHEID?

Volkseie organisasies het sedert die 90’s gewaarsku en gewerk teen die aanslae op ons volk, insluitend die volksmoord, waaronder veral ons boeregemeenskap besonder swaar gebuk gaan.  Aksies uit vele oorde om die saak in die openbare oog te hou en om ons volk se lyding te probeer verlig, is geloods uit oorde van landbou unies en ander belanghebbende ondersteuners.  Die nood om rekord te hou in afwesigheid van die regime se erkenning en misleidende statistiek, het gelei tot vele databasisse, van TLU SA en Projek 2010, om maar twee te noem wie se rekords teruggaan tot 1994!

Getrou aan hul verkleurmannetjiebenadering, ry hierdie organisasies nou die bloedgolf van ons volk se lyding, ter wille van hul eie kleinlike eer, terwyl hul ware oogmerk die permanente verslawing van ons kinders is, soos hulle dit verwoord:  “Ons wil ʼn konstruktiewe ingesteldheid he wat ons verbintenis aan Suid-Afrika moet toon. Ons is verbind tot die Suid-Afrikaanse Grondwet en wil nie net binne die raamwerk van die Grondwet funksioneer nie, maar dit ook uitbou.”

Gaan hulle werklik doen wat dit verg om die volksmoord te stop?