Oorlogsmuseum “transformeer nie te erg”

“Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein het grootliks daarin geslaag om aan die transformasie-eise van die ANC-regering te voldoen, sonder om sy unieke identiteit prys te gee,” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-LP en woordvoerder vir kuns en kultuur gesê, nadat hy as deel van ‘n parlementêre komitee die museum besoek het.  Die parlementêre portefeuljekomitee vir kuns en kultuur het die museum besoek op uitnodiging van dr. Mulder wat lid is van die komitee. Dit vorm deel van die portefeuljekomitee se jaarlikse oorsigbesoeke.

“Die transformasie-eise wat die ANC-regering aan kultuurinstellings stel, lei dikwels daartoe dat die instelling sy unieke karakter en historiese boodskap verloor. Dit is nie die geval met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein nie”, volgens Mulder.

“ʼn Besoek aan sulke instellings verseker dat parlementslede eerstehandse inligting het en nie negatiewe besluite oor ʼn instelling op eensydige propaganda-persepsies neem nie,” het dr. Mulder na die besoek gesê.

Die Oorlogsmuseum is een van die departement van kuns en kultuur se entiteite en kry meer as 90% van sy inkomste van die departement. Slegs 3,8% van die museum se inkomste is uit eie bronne.

In die verlede was daar baie kritiek vanaf ANC-regeringskringe op seker historiese- en kultuurmuseums en selfs dreigemente om die staat se bydrae tot hulle finansies af te sny of drasties te verminder. So ʼn finansiële besluit sal tot die afdanking van personeel lei en so ʼn museum se aktiwiteite ernstig inperk.

“Uit die positiewe reaksies van komiteelede na die besoek is my indruk dat die komiteelede die besoek geniet het en baie geleer het,” het dr. Mulder gesê.