Olie-baas Tillerson word minister

Die Amerikaanse senaat wat deur die Republikeine gedomineer word, het Donderdag die voormalige hoofuitvoerende beampte van die Oliereus, ExxonMobil, Rex Tillerson, se nominasie aanvaar as die land se nuwe minister van buitelandse sake.

Tillerson is met 56 stemme teen 48 aanvaar en goedgekeur as die nuwe minister van buitelandse sake in die kabinet van president Donald Trump, en vervang die vorige regering se omstrede John Kerry.

Nagenoeg al die senatore van die linkse Demokratiese Party het hulle teenstem uitgebring en beweer dat Tillerson nie gesteun kan word nie weens sy goeie verhouding met Rusland.

Tillerson word hoog aangeslaan vir sy vermoë om te onderhandel en uitweë te vind waar ’n dooiepunt bereik sou word, en geniet hoë aansien vir sy integriteit.

Sean Spicer, die woordvoerder van die Wit Huis, het later gesê die Demokrate se pogings om die goedkeuring van ministers te probeer vertraag deur lang debatte te voer oor elkeen, is kinderagtig en ’n vermorsing van kosbare tyd.