NVG ondersoek Gerrie Nel

Net nadat staatsadvokaat Gerrie Nel die Nasionale Vervolgingsgesag met 24 uur kennis verlaat het om by Afriforum aan te sluit, kom dit aan die lig dat die hoof van die NVG, Shaun Abrahams, ‘n ondersoek na Nel gelas het.

Dit volg nadat ‘n sakeman van Laudium ‘n klag ingedien het teen Nel omdat daar na bewering gepeuter is met getuienis.

Abrahams het ene adv. Moipone Noko aangewys om die ondersoek te behartig.

Behalwe Nel, word drie ander aanklaers wat saam met hom gewerk het, ook in die ondersoek betrek.

Die hoof van die Valke sê hulle het nog geen versoek van die NVG gekry om die saak te ondersoek nie.

Nel het gesê hy was op geen stadium in kennis gestel dat hy ondersoek word terwyl hy nog in diens van die NVG was nie.