Nog sewe “aarde” planete ontdek

Wetenskaplikes het die afgelope week nog sewe planete ontdek wat soos die aarde is, maar of daar lewe op die planete is, kon nie bepaal word nie.

Die ruimte deskundiges meen dat daar moontlik ’n vorm van lewe kan wees op drie van die planete, maar dit is slegs ’n vermoede weens die beperkte inligting tot hul beskikking.

Volgens Nasa, wat die inligting vrygestel het, is die planete “in ’n leefbare sone” geleë, en nie “te vêr weg en nie te warm of te koud nie”.

Die wetenskaplikes se verslag dui daarop dat die klimaat moontlik sodanig is dat daar vloeibare water is, wat die moontlikheid van lewe vergroot.

Die ontdekkings is pas in die gesaghebbende tydskrif Nature gepubliseer, maar die daadwerklike moontlikheid dat daar op een van die planete, wat tot 40 ligjare weg is van die aarde, lewe is, kon nie bepaal word nie.

Brice-Olivier Demory sê die soektog na moontlike lewe op ander planete sal voortgesit word alhoewel dit ’n moeisame en uitgerekte navorsingsprogram vereis.