Nog ’n Trump adviseur kry probleme

Die Wit Huis moet ernstig oorweeg om dissiplinêre stappe in te stel teen die president se adviseur, Kellyanne Conway, wat volgens die Buro vir Owerheid Etiek, die etiese reëls oortree het.

In ’n brief aan die Wit Huis het die Buro gevra dat dissiplinêre maatreëls toegepas word teen Conway nadat sy op ’n TV kanaal gesê het Amerikaners moet president Trump se dogter, Ivanka se ontwerpersklere koop.

Conway het glo op die Fox News se TV kanaal mense aangemoedig om Ivanka se produkte te koop, en het dit gedoen nadat ’n winkelgroep met sowat 350 takke, besluit het om nie meer die Ivanka-reeks aan te hou nie.

Die Wit Huis het daarop geregeer en gesê ’n vermanende gesprek is gevoer met Kellyanne Conway oor die aangeleentheid.

President Trump het ook op die Twitter netwerk gereageer op Nordstrom se besluit om nie meer die Ivanka-reeks aan kliënte te bied nie, maar dit is nie teen die etiese reëls nie.

Die Wit Huis het nie direk aan die Buro vir Owerheid Etiek sy kommentaar gebied nie aangesien die Buro oor geen wetlike bevoegdheid beskik nie en sy aanbevelings nie bindend is nie.

Vroeër die week het president Trump sy veiligheidsadviseur, Michael Flynn, die trekpas gegee weens sy voortydige skakeling met Russiese regeringslui.

Mevrou Conway is een van president Trump se belangrikste adviseurs wat vroeër die bestuurder van die Trump verkiesingsveldtog was, en ’n bekende strateeg wat oor ’n lang tyd die Republikeine geadviseer het.

Foto – Kellyanne Conway