Nat Majuba met goeie gees

Die jaarlikse Majubafees by Majubaberg net buite Volksrust het weggespring met baie water, maar nog meer goeie gees.

Soos in die res van die land het ook Majuba baie goeie reën gekry en die terrein is sopnat.

Die fees word vanjaar aangebied deur die Afrikaanse protestante Akademie, en hulle, saam met die Majuba Boerevolk Trust, maak seker dat feesgangers ‘n onvergeetlike tyd gaan beleef.

Die pad na Majuba is goed maar glad, maar daar is ‘n vierwielaangedrewe trekker wat voertuie met woonwaens help trek na die ingangshek redelik hoog op teen die berg. Mense wat vasval op die terrein word ook deur hulle gehelp, en aan kameraadskap en geesdrif ontbreek dit geensins by die feesterrein nie.

Daar is nog staanplekke vir woonwaens en tente beskikbaar, en belangstellendes wat die fees wil bywoon, kan maar net by die hek aanmeld.

Die amptelike program begin vanaand met die opening, en dan more is die hoofprogram, met ‘n erediens afsluiting Sondagoggend.

Foto: ‘n Viertrek trekker sleep ‘n woonwa uit die modder nadat die vasgeval het