Nasionale minimumloon onderweg

Terwyl alle aandag gefokus is op die nuwe minimumloon wat in 2018 in werking tree, is die sektorale vasstelling vir plaaswerkers reeds verhoog met ingang vanaf 1 Maart vanjaar.

Waar plaaswerkers tot dusver ‘n minimumloon van R2 778,83 per maand gekry het, skuif dit vanaf 1 maart op na R3 001,13 per maand. Werkers wat weekliks betaal word, sal nou R692,62 kry, dagwerkers wat 9 ure per dag werk, kry R138,52 en die nuwe uurlikse minimumloon is nou R15,39.

Intussen het die adjunkpresident van die land, Cyril Ramaphosa, die nuwe nasionale minimumloon goedgekeur en ondersteken, wat vanaf Mei 2018 in werking sal kom. Dié loon sal R3 500 per maand wees.

Cosatu het ter elfder ure geweier om die ooreenkoms te onderteken nadat dit ooreengekom is. Hulle het aanvanklik ‘n minimum van R4 500 per maand geëis.

Ramaphosa het egter erken dat die nuwe minimumloon daartoe kan lei dat tot ‘n  halfmiljoen werkers hulle werk kan verloor. Die ekonoom Mike Schussler, sê die nasionale minimumloon sal glad nie help om ongelykhede uit te skakel nie, maar sal dit eerder aanhelp omdat baie mense nou werkloos gaan word.